1. NAAM
Die naam van die Gemeente is:
Die Apostoliese Geloof Sending Van Suid-Afrika, Bethesda-Gemeente, Steelpoort.
Verkorte naam: “A.G.S Steelpoort”
2. ONTSTAAN
Die Gemeente glo en verklaar nederig dat:
2.1 dit sy ontstaan, voortbestaan en bestemming van God het;
2.2 dit 'n openbaring van die Kerk van Jesus Christus is, onder Sy heerskappy as Hoof;
2.3 ooreenkomstig die uitsprake van die Heilige Skrif, die werking van die Heilige Gees en die bedieninge deur Hom ingestel;
3. GELOOFSBELYDENIS
Die Gemeente onderskryf die Geloofsbelydenis soos verklaar deur die Apostoliese Geloof Sending van Suid-Afrika ingevolge afdeling A.3 (Aanhef) tot die Konstitusie van die Kerk, wat soos volg lees:
3.1 ONS GLO in die ewige, drie-enige God, almagtige skepper, onderhouer en regeerder van die ganse skepping.
3.2 ONS GLO in God die Vader, die outeur van die skepping en verlossing.
3.3 ONS GLO in Jesus Christus die enigste Seun van God die Vader, ware God wat ter wille van die mensdom en sy verlossing van die hemel neergedaal en vlees geword het, wat verwek is deur die Heilige Gees is uit die maagd Maria; wat op die aarde geleef het en gekruisig is, gesterwe het en begrawe is, wat uit die dood opgestaan en opgevaar het na die hemel waar Hy aan die Regterhand van die Vader sit.
3.4 ONS GLO in die Heilige Gees, ware God wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat die wêreld oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel en in die hele waarheid lei.
3.5 ONS GLO dat die Bybel die Woord van God is, geskryf deur mense onder die inspirasie van die Heilige Gees. Ons glo dat dit gesaghebbend die wil van God verkondig en ons alles leer wat vir saligheid nodig is.
3.6 ONS GLO dat alle mense na die beeld van God geskape is; as gevolg van hulle sondige opstand is hierdie beeld geskend, dat alle mense voor God gesondig het en dit die wil van God is dat alle mense saligheid sal ontvang deur geloof in Jesus Christus.
3.7 ONS GLO in die doping in die Heilige Gees, met die aanvanklike teken van spreke in tale soos aan alle gelowiges belowe is. Ons glo in die werking van die gawes en vrug van die Gees in die lewe van 'n Christen. Ons glo dat 'n Christen 'n dissipel van Jesus Christus behoort te wees en wat 'n toegewyde en heilige lewe lei.
3.8 ONS GLO dat Jesus Christus die Hoof van die Kerk is wat deur die Heilige Gees saamgevoeg is en wat bestaan uit alle wedergebore gelowiges. Die Kerk is verantwoordelik vir die verkondiging en demonstrasie van die evangelie en God se wil vir alle mense. As charismatiese gemeenskap verkeer hulle onderling en stig mekaar.
3.9 ONS GLO dat die doop van die gelowige deur onderdompeling en die nagmaal instellings van Jesus Christus is en deur die Kerk onderhou moet word.
3.10 ONS GLO dat op die Godbestemde tyd Jesus Christus sy Kerk sal kom wegneem.
3.11 ONS GLO in die oordeelsdag wanneer Jesus Christus die lewende en die dode sal oordeel. Ons glo in die opstanding van die liggaam en 'n ewige lewe vir die regverdige en ewige straf vir die goddelose. Ons glo in 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde waar God in heerlikheid sal regeer.
4. VISIE
Om mense tot lewensvervulling in Christus Jesus te lei met die leuse:
Christus in my vir jou!.
5. SENDING
5.1 Die Gemeente onderskryf die Sending van die Apostoliese Geloof Sending van Suid-Afrika ingevolge afdeling A.4 (Aanhef) tot die Konstitusie van die Kerk, wat soos volg lees:
Die Sending van die Kerk is om-
5.1.1 God te verheerlik;
5.1.2 die koningkryk van God te verkondig deur die bediening van die evangelie van Jesus Christus deur die krag van die Heilige Gees;
5.1.3 die behoeftes van die mens in totaliteit aan te spreek;
5.1.4 gelowiges te ontwikkel, toe te rus en geleentheid te gee vir bediening;
5.1.5 die invloed van die Kerk buite sy grense en die buiteland uit te brei;
5.1.6 die gemeenskap van die gelowiges en netwerk van bedieninge te promoveer;
5.2 Daarom is die sending van die Gemeente;
Deur die ontwikkeling en vestiging van geïnspireerde leierskap en bestuur binne 'n dinamiese struktuur en aksies om-
5.2.1 'n Christosentriese evangeliese karakter en rentmeesterskap in die Gemeente te ontwikkel en te versterk;
5.2.2 te sorg vir die geestelike en tydelike behoeftes van die lidmate van die Gemeente;
5.2.3 die lidmate, onafhanklik en kollektief, te bemagtig om hul talente en roeping in diens van die Kerk van Jesus Christus en in die gemeenskap te gebruik, sodat mense hul aan Jesus Christus sal verbind en hulle volle lewenspotensiaal bereik.
6. KERNWAARDES
6.1 Respek
Ons beskou respek as ‘n goddelike kernwaarde waaringevolge ons verhoudinge bou en handhaaf, gedagtig daaraan dat God alle mense geskep het en dat elke mense inhirente waardigheid het en daarom met respek behandel moet word.
6.2 Leierskap
Bethesda onderskyf die ontwikkeling en bemagtiging van Leierskap op alle vlakke binne ons Gemeente en gemeenskap.
6.3 Deursigtigheid
Bethesda beskou deursigtige, verantwoordbare bestuur as die fondasie waarop ons Gemeente en al sy aktiwitiete gebou word.
6.4 Integriteit
Bethesda onderskryf en streef na integriteit as bousteen van ‘n goeie Christelike, morele karakter. Hierdie integriteit word gekenmerk deur onbetwyfelde eerbaarheid en vertrouenswaardigheid van ons lidmate.
6.5 Verantwoordbaarheid
Bethesda-leierskap erken ons verantwoordbaarheid teenoor God vir die manier waarop ons sy plaaslike Gemeente bestuur, gedagting aan Romeine 10:14; en moedig ons Lidmate aan om aktief mede-eienaarskap van die plaaslike Gemeente te neem en daarvoor te sorg en te voorsien, soos God dit van ons sou vereis.
7. REGSSTATUS
Die Gemeente is 'n regspersoon met ewigdurende regsopvolging, geregistreer as 'n goedgekeurde plaaslike Gemeente van die Apostoliese Geloof Sending van Suid-Afrika deur die Nasionale Leierskapforum ingevolge artikel 2.1 van die Konstitusie van die Kerk, en die “Bestuursraad” soos saamgestel in terme van hierdie beleid is sy gevolmagtigde agent.
Derhalwe is die Gemeente-
7.1 'n onafhanklike regspersoon onderskei van die Kerk en/of sy lidmate, en/of die lidmate van die Gemeente en sal, onderhewig aan die regulasies, as onafhanklike regspersoon;
7.1.1 geregtig wees om vaste eiendom, bates en fondse te besit onderskei van die Kerk en sy lidmate of die lidmate van die Gemeente;
7.1.2 geregtig wees om regte, verpligtinge, voorregte, magte en verantwoordelikhede op te neem, onderskei van die Kerk en sy lidmate of die lidmate van die Gemeente.
7.1.3 geregtig wees om regsaksies in sy eie naam in te stel en/of te verdedig;
7.1.4 geregtig wees om regshandelinge van watter aard ookal in sy eie naam te verrig;
7.1.5 geregtig wees om eiendom te verkry, te vervreem en/of te bewaar en op enige wyse daarmee te handel;
7.1.6 geregtig wees om persone in diens te neem, welke indiensneming insluit die beroep van 'n pastoor of enige ander bedienaar soos bedoel in die Konstitusie van die Kerk.
7.2 Die Bestuursraad het die bevoegdheid om enige regshandeling te verrig wat nodig mag wees om die roeping van die Kerk te vervul in besonder, en om die besigheid en sake te bedryf, en om die magte te beoefen, en om die bedrywighede te beheer van die Gemeente namens die Gemeente.
7.3 Die Bestuursraad sal inkomste, uitgawes, bates en laste van die plaaslike Gemeente ontvang, administreer en daarvoor rekenskap gee, ingevolge die bepalings van die Nasionale Finansiële Beleid wat deel vorm van die regulasies tot die Konstitusie van die Kerk.
7.4 Die Konstitusie en Regulasies van die A.G.S van S.A. sal die Konstitusie en Regulasies van die Gemeente wees.
7.5 Die Gemeente onderskryf die Suid-Afrikaanse Handves van Godsdiensregte en- Vryhede (soos gewysig 1 Oktober 2009; Afrikaanse vertaling- Februarie 2010) en bestuur die Gemeente daarin gevolge.
8. LIDMAATSKAP
8.1 Opneemprosedures
Die volgende prosedures sal gevolg word by die opneem van 'n lid van die Gemeente;
8.1.1 die voltooi van die lidmaatskap aansoekvorm soos per bylae 1;
8.1.2 die genotuleerde goedkeuring van die aansoek deur die Bestuursraad van die Gemeente; en
8.1.3 die opneem van die aansoeker op die amptelike Gemeentelys.
8.2 Lidmaatskapvoorwaardes
Die lidmate van die Gemeente sal persone wees;
8.2.1 wat wedergebore is en die doop van die gelowiges ondergaan het of op die punt staan om gedoop te word;
8.2.2 wat erken is as lidmate van die Gemeente by die inwerktreding van hierdie beleid;
8.2.3 wat die "Geloofsbelydenis van die A.G.S van S.A. " soos hierin vervat, onderskryf en aanvaar;
8.2.5 wat aanvaar dat, alhoewel daar 'n sterk homoseksuele oriëntasie in ons moderne eeu bestaan, dit teenstrydig is met die Skrif; wat egter ook aanvaar dat ons, naas God, die opdrag het om mense (ons naaste) lief te hê soos onsself. Dit impliseer dat lidmate met deernis, aanvaarding en begrip, en ook met bediening, mense met hierdie oriëntasie sal omarm en hulle sal aanmoedig tot 'n lewe van heiligmaking - sonder om ontrou te wees aan ons liefde vir God en Bybelse norme. Lidmate aanvaar sodoende dat ons pastoraat geen huwelike of burgerlike verbintenisse van 'n homoseksuele aard kan voltrek nie.
8.3 Verpligtinge/Pligte
Daar word van die lidmate van die Gemeente verwag om;
8.3.1 hul te onderwerp aan die leierskap van die Presiderende Pastoor en/of Gemeenteleier volgens artikel 2.4.2 van die Konstitusie van die Kerk;
8.3.2 hul te onderwerp aan die bestuursvoorskrifte soos bepaal deur die Bestuursraad van die Gemeente;
8.3.3 aktief betrokke te wees in die gemeenskaplike aktiwiteite van die Gemeente soos bepaal deur die leierskap en/of Bestuursraad van die Gemeente;
8.3.4 finansieël die werk van die Here in die Gemeente te ondersteun, nl. Tiende en offerandes;
8.3.5 aktief die werk van die Here te ondersteun deur Gebed;
8.3.6 'n persoonlike getuie van die Here Jesus Christus te wees;
8.4 Dissiplinêre- en Grieweprosedures
Die dissiplinêre- en Grieweprosedures van die Gemeente sal ooreenkomstig die bepalings van Bylaag 11 tot die Konstitusie van die Kerk wees. Lidmate se onvanpaste gedrag kan gesensureer word in terme van bestaande Kerkreg.
9. BESTUURSRAAD
9.1 Agent
Soos bepaal ingevolge artikel 22.5 van die Konstitusie van die Kerk sal die Bestuursraad die gevolmagtigde agent van die Gemeente wees;
9.2 Naam
Die Beheerliggam van die Gemeente sal bekendstaan as “Die Bestuursraad”.
9.3 Kwalifikasies
Persone aangestel of verkies as lede van die Bestuursraad van die Gemeente sal;
9.3.1 geregistreerde lidmate van die Gemeente ingevolge klousule 8 wees;
9.3.2 gedoop wees met die Heilige Gees en daartoe getuienis lewer;
9.3.3 kwalifiseer in terme van die basiese Skriftuurlike beginsels soos beskryf in 1 Timoteus 3:1-7 en Titus 1:5-9;
9.3.4 beskik oor leierskap- en bestuursvaardighede en bereid wees om hul te onderwerp aan voorgesette ontwikkeling van hierdie vaardighede;
9.3.5 aktief betrokke wees in die aktiwiteite van die Gemeente;
9.3.6 gereeld sy/haar tiendes aan die Gemeente betaal;
9.3.7 nie 'n ongerehabiliteerde insolvent wees nie;
9.4 Samestelling
Die Bestuursraad van die Gemeente sal soos volg saamgestel wees;
9.4.1 die presiderende pastoor/Gemeenteleier soos aangestel ingevolge artikel 2.1.2 van die Grondwet van die AGS van Suid-Afrika, 2014, en sal die leier en visioendraer van die Gemeente wees;
9.4.2 a. tussen 8 en 12 lede, wat kwalifiseer in terme van klousule 9.3 van hierdie Gemeentebeleid wat sal funksioneer as die Bestuursraad;
b. die ampsdraers sal deur die presiderende pastoor of Gemeenteleier vanuit die Bestuursraad aangewys word.
9.4.3 die Bestuursraad soos saamgestel in terme van klousules 9.4.1 en 9.4.2 sal persone aanstel of verkies tot administratiewe funksies of persone koopteer vir hierdie doel.
9.5 Aanstellingsprosedures
9.5.1 Verkose model- Konstitusionele Model 1
Die Bestuursraad sal tydens die Driejaarlikse Algemene Besigheidsvergadering van die Gemeente soos volg aangestel word:
9.5.2 die presiderende pastoor sal die name van die bestaande Bestuursraad (0nderworpe aan klousule 9.4.2), soos by datum van die aanvaarding van hierdie beleid, aan die Gemeentevergadering soos gereël, voorlê vir moontlike bekragtiging deur die Gemeente;
9.5.3 'n twee-derde meerderheidstem van die lidmate teenwoordig by die Gemeentevergadering sal die aanstelling van die Bestuursraad soos voorgelê in terme van klousule 9.5.1 oorweeg en indien in ooreenstemming daarmee, bekragtig.
9.6 Dienstermyn
Die lede van die Bestuursraad sal, tensy elders voorsien, amp behou tot by die volgende verkiesingsjaar, tensy hy/sy bedank, ontslaan word of uit diens tree.
9.7 Vakatures
- Waar ‘n vakature op die Bestuursraad mag ontstaan vir welke rede ookal, word die oorblywende Bestuursraadslede gevolmag om persone wat kwalifiseer ingevolge artikel 9.3 van hierdie Gemeentebeleid te koöpteer tot diens op die Bestuursraad.
- Enige koöptasie ingevolge artikel 9.7 sal van krag bly tot en met die volgende Driejaarlikse Algemene Besigheidsvergadering van die Gemeente.
- Waar die getal vakatures sodanig is dat die Bestuursraad nie meer oor die nodige kworum beskik om self aanstellings te kan maak nie, moet die Bestuursraad die Mpumalanga Highveld Streek onverwyld inlig en ‘n spesiale Alegemene gemeenteveragdering belê word waartydens ‘n nuwe kerkraad onder leiding van die Streek verkies sal word.
9.8 Funksies
Die Bestuursraad sal-
9.8.1 ingevolge die bepalings van klousule 8, lidmate opneem, toerus en versorg, dissiplineer of hul lidmaatskap beëindig;
9.8.2 verantwoordelik wees vir die tydelike en geestelike belange van die Gemeente;
9.8.3 ingevolge die regulasies van die Apostoliese Geloof Sending van Suid-Afrika enige pastoor beroep van die lys van geordende pastore van die Kerk;
9.8.4 verantwoordelik wees vir die bestuur van die sake van die Gemeente in teme van klousule 7 en die Nasionale Finansiëlebeleid (Bylae 10 tot die Konstitusie van die Kerk) van die Apostoliese Geloof Sending van Suid-Afrika en toesien dat finansiële state minstens eenmaal per jaar nagesien/geoudit word;
9.8.5 die reg voorbehou om enige wettige instansie binne die Gemeente op te rig of te vestig, wat geestelik of tydelik in die belang van die Gemeente geag mag word, bv. Jeug en kinderbediening, vrouebediening/forum, ouderling-/diakenraad, bedieningsraad, ens.
9.9 Vergaderingsprosedure
Alle vergaderings van die Bestuursraad sal gehou word in terme van die bepalings van Bylaag 1 (Reglement van Orde) tot die Konstitusie van die Kerk.
10. ALGEMENE BESIGHEIDSVERGADERING
10.1 Elke derdejaar met ingang 2020, sal 'n Algemene Besigheidvergadering gehou word op 'n plek en tyd soos bepaal deur die Bestuursraad van die Gemeente;
10.2 die Algemene Besigheidsvergadering sal bestaan uit alle geregistreerde lidmate van die Gemeente, wat een-en-twintig (21) dae vooraf kennis gegee is van die vergadering;
10.3 'n kworum by die Algemene Besigheidsvergadering van die Gemeente sal die lede teenwoordig wees by so 'n vergadering;
10.4 die Algemene Besigheidvergadering van die Gemeente sal
- verslag ontvang van die geestelike en tydelike welstand van die Gemeente,
- die Bestuursraad opnuut verkies en bekragtig;
- besluite neem oor alle wysigings tot die Gemeentebeleid;
- beperkinge plaas op die bestuur van die Gemeente, indien nodig; en
- enige spesiale opdragte aan die Bestuursraad as gevolmagtigde Agent van die Gemeente verleen.
11. ALGEMENE BEPALINGS
11.1 Beleid
Om hierdie beleid op enige manier te wysig, moet geskrewe kennisgewing voorgelê word aan die sekretaris van die Bestuursraad ten minste sestig (60) dae voor die volgende Algemene Besigheidsvergadering. In sodanige kennisgewing moet volledige besonderhede van die voorgestelde wysigings, insluitende 'n motivering daarvoor, verstrek word. Hierna sal kennisgewing ten minste een-en-twintig (21) dae voor die Algemene Besigheidsvergadering gesirkuleer word en 'n twee-derde meerderheid stem van die teenwoordige lede by die Algemene Besigheidsvergadering sal besluit of die beleid so gewysig sal word al dan nie;
11.2 Vrywaring teen ongemagtigde optrede
Onder geen omstandighede sal die Gemeente of enige ander regspersoon soos bepaal in hierdie beleid verantwoordelik aanvaar vir die aankope of enige ander finansiële- of regsaanspreeklikheid deur enige persoon of liggaan aangegaan, wat nie behoorlik daartoe gemagtig is deur die betrokke liggaam of regspersoon ingevolge die bepalings van hierdie beleid nie.
11.3 Vrywaring van lede
Elke lid van enige statutêre liggaam of regspersoon, soos beskryf in hierdie beleid, sal deur die Gemeente gevrywaar wees van verlies, uitgawes of skulde deur hom/haar aangegaan in die uitvoering van sy/haar pligte, met dien verstande dat sodanige verliese, uitgawes of skulde aangegaan, nie as gevolg van sy/haar eie oneerlikheid, opsetlikheid of versuim veroorsaak is nie.
11.4 Vrywaring teen optrede van ander
Geen lid van enige staturêre liggaam of regspersoon, soos beskryf in hierdie beleid, sal aanspreeklik wees vir die optrede, versuim of onbetaalde skulde van enige ander lid van die betrokke statutêre liggaam of regspersoon, of vir enige verlies wat die Gemeente op enige wyse mag ly nie, tensy sodanige optrede, onbetaalde skulde of verlies veroorsaak is as gevolg van sy/haar eie oneerlikheid, opsetlikheid of versuim.
12. GOEDKEURING VAN DIE GEMEENTEBELEID
Goedkeuring ingevolge die bepalings van artikel 2.4.1 van die Konstitusie van die Apostoliese Geloof Sending van Suid-Afrika:
12.1 Gemeentegoedkeuring
Hiemee word bevestig dat hierdie beleid goedgekeur is deur 'n twee-derde meerderheid van die lidmate teenwoordig by 'n behoorlike gekonstitueerde vergadering van die Gemeente gehou op 1 November 2020 te Steelpoort.